Hi, my naam is Ockie Coetzer vir enigeen wat nie weet wie ek is nie...
Ek werk saam met Belinda van Heerden aan 40 DAYS. Hierdie projek is haar 'baba'. Ek is 'n opgeleide akteur en het ook ondervinding as produksie bestuurder. By hierdie projek is ek in altwee hierdie hoedanighede betrokke.
So bietjie van my geskiedenis: Direk na matriek, in 1997 is ek weermag toe en het op Voortrekkerhoogte by die S.A.G.D. Akademie my militêre, asook O.N.O. en Offisier opleiding ontvang.
Die militêre lewe was vir my heel aangenaam en ek het die struktuur verskriklik geniet. Die grootste rede hiervoor is dat ek van kleins af al aan kliniese depressie ly (ongelukkig is ek eers in 2010 daarmee gediagnoseer) en die streng roetine het nie toegelaat dat ek in melankolie verval nie. Die fiksheid en konstante dissipline was ook nodig vir my sielkiundige gesondheid.
Daar was wel ander aspekte van die opleiding wat my semi-permanente skade aangedoen het. As deel van ons teen-insurgensie opleiding is ons totaal afgebreek en weer opgebou as 'n klomp aggressiewe dônners. Dit als onder die vaandel van spanwerk maar met die proviso dat jy skuldig moet voel as jy dalk nie die fisiese vlakke van jou spanmaats kan bereik nie. As jy een van die ongelukkiges is wat nie so sterk of vinnig soos jou maters was nie (al was jy net so fiks soos hulle) moes hulle jou op 'n bed of draagbaar dra sodat jy kon skuldig voel; so asof dit jou volgende keer gaan laat beter presteer...
Dinge soos dié bly my steeds vandag by. Ek het 'powerlifting' gedoen op skool en die eerste keer met 'n bos fase wat ek, om my maats te help, 'n teerpaal alleen opgetel en met hom gehardloop het, het ek letterlik 'n lat vir my eie gat gepluk. Van toe af was ek in die instrukteurs se oë 'n een-man-magger span en daar was van my verwag om konstant meer as my porsie te doen. As ek nie het nie het ek 'onderpresteer' volgens hulle, maak nie saak hoe dit my laat voel het nie. Die ergste dele van my opleiding was die sielkundige moeghied.
Alhoewel ek vir drie jaar in die weermag gedien het het ek het nooit self aksie gesien nie, maar die sielkundige knoue a.g.v. sekere aspekte van die opleiding pla my vandag nogsteeds.
Ek wil nie weet met watse probleme die ouens sit wat ware recces was of wat kontak beleef het op die grens nie... Julle opleiding was erger as myne, en julle het regte aksie gesien...
Wat het julle hieroor te sê?
Net soos ons elkeen 'n individu is het ons elkeen byvoorbeeld die opleiding op 'n heel ander wyse ervaar. Dinge waarvan ek gehoor het wat my hare laat rys het was byvoorbeeld van die praktyke wat die instrukteurs in die pantser opleidings kadre gehandhaaf het... Ek kan ongelukkig nie persoonlik daaroor skryf nie. So ons wag om van julle ouens wat weet te hoor...
Kommentaar gerus in die boksie hieronder...
No comments:
Post a Comment